20 April 2012

Grey Matters wandel deur die tuin

Die lede van Grey Matters het 8 Maart by by Rustenburg wynplaas, in hulle pragtige Schoongezicht tuin bymekaargekom om daardeur te wandel.  Die tema van die aand was Adam, Eva en die Tuin en die Genesis skeppingsverhale was die bladmusiek waarop ons gewandel het.

Die eerste beweging van ons wandel was rus.  ’n Oomblik van aanbidding aan die God wat rus (Gen. 1:31-2:3).  Rus is geëer as die kroon van God se skepping.  En hoe, vra jy?  Deur te rus natuurlik!

Beweging twee was ’n meditasie oor Gen. 2:9.  Goed om te eet én mooi om na te kyk” was die bome wat God in die Tuin geplant het.  In teenstelling hiermee rus ons samelewing egter op die ontginning van die gebruikswaarde van die wêreld (goed om van te eet).  Iewers het ons vergeet: “Goed om te eet én mooi om na te kyk.”  Ons skryf toe elkeen dit wat vir ons mooi is neer.

Ons dink toe oor werk.  Kyk ons na werk deur die lens van die sondeval dan is dit: “In die sweet van jou aangesig sal jy jou brood verdien.  Dit lyk egter asof Gen. 2:15 iets anders in gedagte gehad het: “Die Here God het die mens in die tuin laat woon om dit te bewerk en op te pas.  Hier gaan dit oor genade, roeping en rentmeesterskap.  Sweet is maar ’n byproduk!

In beweging vier het ons voor Die Boom van Kennis van Goed en Kwaad kom kniel.  Nie om iets te pluk nie, maar om iets te gee.  Daarop het ons papiertjies met dit wat mooi is gehang as simbool dat dít genoeg is.  Ons hoef ons nie aan kennis of alwetendheid te vergryp nie.

Ons sluit toe af met ’n wandel deur die labirint om “te hoor hoe die Here God in die tuin wandel teen die tyd dat die aandwind opkom...” (Gen. 3:8).

1 comment: