20 April 2012

Is die Bybel WAAR?

’n Vriend vra eendag of ek glo dat die Bybel die waarheid is.  Ek gebruik toe ’n dominee ontduikings tegniek en vra wat hý glo.  Sy antwoord was nee.

Later, toe ek weer oor die voorval dink, kom Pontius Pilatus se woorde by my op:  Wat is waarheid?  Die woord, “waarheid”, word dikwels gebruik om te verwys na dit wat met realiteit ooreenstem.  Waarheid is dan ’n feit wat met empiriese bewyse bevestig of verklaar kan word (bv. die aarde is rond).  Dan is daar ook “Waarheid” (met ’n hoofletter W) wat verwys na gevolgtrekkings tot metafisiese vrae soos God se bestaan en aard.  Waarheid wat nie bewys kan word nie, maar tog veronderstel word.

Dit lyk egter asof Jesus ’n derde verstaan van waarheid in gedagte het wanneer hy sê: “Ek is die waarheid.”  Jesus is die WAARHEID.  Anders as “waarheid” kan WAARHEID nie begryp of geken word nie – mens word deur die WAARHEID geken!  Anders as “Waarheid” gaan WAARHEID nie oor spekulasie nie – WAARHEID vind gestalte in vlees en bloed, brood en wyn.  Om die WAARHEID te ken is om geken te word en dit maak jou vry!  Om in die Bybel te glo, gaan dus nie oor kennis van ’n stel empiriese “waarhede” nie.  Dit gaan net so min oor die vashou aan metafisiese “Waarhede”.  Is Johannes nie dalk reg (1Joh. 4:7) wanneer hy sê: “Kom ons wees lief vir mekaar, want liefde kom van God.  Almal wat liefhet is van God gebore en ken vir God.”

’n Week of wat later sien ek weer my vriend.  Hy was besig om met deurnis met ’n oom te gesels wat onlangs sy vrou verloor het.  Ek kon die omgee in sy oë sien.  Dalk glo my vriend meer in die Bybel as wat hy dink?

Is die Bybel “waar”?  Bewys dit eers.  Is die Bybel “Waar”?  Wie weet?  Is die Bybel WAAR?  Jy sal weet wanneer dit is!

1 comment:

  1. Belangrike perspektief hierdie! Die korrespondensie-teorie van waarheid (veritas est adaequatio intellectus et re - waarheid is die ooreenstemming van intellek en saak) is lankal agterhaal ten gunste van die relasionele waarheidsbegrip wat jy hier na vore bring. En tog bly fundamentaliste en literaliste die ou sieninge ophaal en word hulle Bybel-aanbidders.

    ReplyDelete