22 October 2012

Die kunstenaar-God


Sou die skepper God ’n kunstenaar wees sou dit sin maak dat die wêreld en die lewe so mooi, so verstommend mooi kan wees, want soos Oscar Wilde sê: “The artist is the creator of beautiful things.”

Sou die onsiende God ’n kunstenaar wees sou dit sin maak dat God so versteek in die wêreld is. Sy teenwoordigheid altyd in afwesigheid, want soos Wilde ook sê: “to reveal art and conceal the artist is art’s aim.”

Sou die misterieuse God ’n kunstenaar wees sou die misterie van die wêreld meer sin maak, want goeie kuns weet dat die lewe, en God ook, nie ’n probleem is om op te los nie, maar ’n misterie om te geniet.

Sou die gekruisigde God ’n kunstenaar wees sou dit sin maak dat God nie ’n ompad om pyn en seerkry neem nie, maar dit uitwys vir wat dit is. Want soos Heidegger sê: “die Kuns laat die Waarheid ontspring.”

Sou die opwekkende God ’n kunstenaar wees maak dit sin dat ons in Hom kan opstaan en lewe al woed die dood so erg om ons. Want soos Carl Jung eens gesê het: “Art releases those forces which have enabled humankind to find refuge from every peril and to outlive the longest night.”


Die kunstenaar-God rig aan ons die vraag: “Kan Ek nie met julle doen wat hierdie pottebakker met die klei gedoen het nie, Israel?” (lees weer Jeremia 18)

Dis ’n uitnodiging om herskep te word, om nuut verwoord te word. Dis ’n uitnodiging om weer, nadat ons onsself selfstandig en verlig verklaar het, ’n kunswerk te word.

Is dít nie dalk ons belangrikste verhouding nie? Gód die kunstenaar – óns die kunswerk.

(Hierdie stuk het oorspronklik in Stellenbosch Moedergemeente se jaarblad verskyn)