Wat in hemels naam is Grey Matters?

Wat is die Vertrekpunt?
Daar is ʼn bewuswording dat blote inligting nie genoeg is om tot sinvolle lewensverandering te lei nie. Alhoewel die nuutste weergawe van ‘7 stappe tot ...’ of ‘10 beginsels van ...’ op enige oomblik tot ons beskikking is, kom ons al hoe meer tot die besef dat die diepste waarhede van die lewe nie afgekook kan word tot eenvoudige lysies en programme nie.
Ons ervaar eerder dat dit in ons ontmoetings met “die ander” en “die Ander” is wat selfkennis en identiteitsvorming plaas vind.  In ons daaglikse bestaan vind ons egter selde geleenthede vir egte ontmoetings met ʼn egte “ander”.  Ons vergeet selfs dat dit eers moontlik is...

Wat is “Grey Matters”?

Grey Matters is ʼn groep mense wat saam op soek is na sulke genuine ontmoetings met mekaar en met God.  Dit is ‘n poging vir die mense wat betrokke is om egte en vir hulleself sinvolle aanbidding te beleef waarin hulle hulle hele self voor mekaar en God kan lê.  Dit beteken ‘n erkenning dat ons lewens nie net uit sogenaamde religieuse dele bestaan nie, maar dat ons ook pub toe gaan, oor politiek stry, TV en flieks kyk, musiek luister, stres oor ons werk, skree op die kinders en dat God daarin by ons is.
Daar is veral drie mediums wat `n atmosfeer van ontdekking in hierdie byeenkomste skep:
Die eerste is dat dit `n ruimte is waar beoordeling van ander se opinies uitgestel word. Wanneer ons met iemand in gesprek treë wie se oortuigings verskil van ons eie is daar altyd die gevaar dat ons hulle in ons eie beeld probeer skep deur hom/haar te probeer oortuig om soos ons te dink. Dit verminder die moontlikheid dat een van die gespreksgenote tot nuwe insig kan kom.
Die Grey Matters byeenkoms is gebaseer op die idee dat Christus ander mense as instrumente van ons eie transformasie gebruik – veral dié wat ander oortuigings het. Tydens die gesprekke word jy gevra om jou behoefte aan oorreding en beoordeling uit te stel sodat jy werklik kan hoor hoe en wat die ander persoon dink. Ons glo dat ons wêreld- en mensbeskouing radikaal verbreed word wanneer ons onsself doelbewus oopstel om by mekaar te leer.
Tweedens is hierdie ook `n ruimte van kreatiwiteit en interaktiwiteit.  Dit impliseer ʼn paradigmaskuif van  gesentraliseerde na netwerk-vorme van “kerkwees”.  Dus word soveel as moontlik van die beskikbare hulpmiddels gebruik sodat elkeen `n sinvolle bydrae tot die groep kan maak: Kunswerke, poësie, klei, musiek, foto’s, stories en gelykenisse sowel as video hulpmiddels sal gebruik word.
Derdens vra Grey Matters van jou `n gewilligheid om jou eie ‘duisternis’ te konfronteer. In hierdie byeenkoms vind daar baie min neutrale gesprekke oor teologiese temas plaas, omdat belewenis van groter belang is. Wanneer die fokus verskuif vanaf abstrakte waarhede oor God en die wêreld na elke individu se identifisering met `n gegewe situasie, verhoog die moontlikheid dat ons self tot insig kan kom aangaande ons eie verdraaide denke en dade.
Daar is dus `n hoë mate van subjektiwiteit aan verbonde. Dit is ook die rede vir die naam Grey Matters (grys sake/grys maak saak). Die doelwit van die projek is nie om die beste antwoorde te vind op die moeilike vrae van die lewe nie. Dis juis binne hierdie grys, onseker en misterieuse areas – waar die proses belangriker is as die eindproduk – waar God ons kan verras.

Wat dit nie is nie

®    Dit is nie bedoel om te lei tot voorafbepaalde uitkomste nie, maar wil ‘n ruimte wees waarin mense God op wyduiteenlopende maniere ontmoet, wat vir elkeen anders sal wees.
®    Dit is nie ‘n middel tot die doel om mense uiteindelik deur te voer na die bestaande tradisionele eredienste nie.
®    Dit is nie ‘n middel tot die doel om spesifieke sosiale of kulturele groepe te “bereik met die Evangelie” oftewel “na hulle gestuur te wees” nie.  Grey Matters is dus nie “trendy” evangelisasie nie.
®    Dit is nie ‘n manier om die kerk eietyds te laat lyk nie en is dus nie ‘n blote herverpakking van bestaande vorme en strukture nie.
®    Daar is nie vaste leierskap en rolle nie, hoewel ‘n diverse span die buitelyne van ‘n byeenkoms beplan.
®    Dit is nie iets wat tipies ‘n lang lewensduur het nie.

Die ethos

®    Die groep bepaal uiteindelik self die etos – hier is net ʼn paar kern waardes wat so ʼn byeenkoms moontlik kan maak.
®    Geloof word beskou as ‘n reis eerder as ‘n (dogmatiese) bestemming en die byeenkomste kan en wil hierdie reis nie bepaal en beheer nie, maar ruimte skep waarbinne elkeen se eiesoortige ontmoeting met God kan gebeur.
®    Egtheid – dit is uitdrukking van geloof (meestal sonder sekerhede) en ervarings van lewensin (of -onsin) wat werklik eie is aan die mense wat hieraan deelneem.
®    Holisties – die lewe is nie ingedeel in dit wat heilig is en dit wat sekulêr is nie.  Die klem val op beide denke én ervaring (sintuiglik en emosioneel).  Daar is dus ‘n openheid vir God se teenwoordigheid in enige deel van ons lewens of omgewing.  Dit is ‘n soeke na verwondering oftewel ‘n belewing van die transendente in die alledaagse.  (Teologies is die benadering inkarnasioneel teenoor ‘n ekstatiese benadering  - aanbidding is dus nie ‘n bo-natuurlike ervaring van die Bo-natuurlike nie, dis ‘n natuurlike ervaring van die transendente binne die immanente). 
®    ‘n Viering van alle teenwoordiges se kreatiwiteit.  Dit impliseer oop, interaktiewe deelname, asook die neem van risiko’s, vreugdevolle eksperimentering en die gepaardgaande openheid vir foute en mislukkings.
®    Minimale uitsluiting – die geleentheid word gevorm deur wie ook al teenwoordig is en daar is groot huiwering om grense te trek wat bepaal wie “in” en wie “uit” is in die Koninkryk van God.
®    Konsensus – een persoon gee nie die toon aan nie en daar is ‘n lae toestemmingsdrempel – as jy iets wil doen, gaan voort!
®    Hoë kwaliteit – ons doen dinge so goed ons kan.
®    Besorgdheid vir die omgewing, omdat ons deel is van God se skepping.

Grey Matters in Stellenbosch?

®    Ons ontmoet elke ander Donderdag-aand om 19:00 in die Foyer van die Hofmeyrsaal.
Indien jy graag by Grey Matters wil aansluit kontak gerus vir Helgard by helgard@ce.co.za

Hoe kan so ʼn byeenkoms lyk? (Nie noodwendig so nie)

®    Die atmosfeer is ontspanne, kerse brand, woorde of beelde projekteer op die skerms en rustige “lounge” musiek gee ambiénce.  Daar is gewoonlik koffie en wyn.
®    Meer as een persoon gaan voor, maar eintlik is daar geen “voor” in terme van ‘n fokuspunt soos ‘n verhoog of preekstoel/kateder nie.
®    Elemente van die byeenkoms kan insluit kleingroepbesprekings, ritueel en simboliek, interpretasie van ‘n kunswerk in verhouding tot die “antieke teks” (Bybelteks), die rondbeweeg op eie inisiatief na verskillende “stasies” in die vertrek wat interaktiwiteit vra.  Voorbeelde van stasies is die aansteek van kerse, joernaalskrywing, teken/verf/ skryf op ongedrukte koerantpapier, kleivorming, gedigte en kreatiewe skryfwerk.  Daar kan dus tye wees waar mense verskillende goed op dieselfde tyd doen.
®    Die geleentheid word beplan rondom ‘n tema.  Alles wat gebeur kommunikeer aspekte van die tema.  Daar is nie vaste en verpligte elemente nie.  Die buitelyne van die geleentheid word in ‘n kreatiewe sessie deur ‘n (oop) span getrek – alle teenwoordiges kleur die geleentheid in (daar is dus ‘n hoë vlak van vertroue in mense se vermoë om toepaslike inkleding/inhoud aan die geleentheid te gee).
®    Soms kan ʼn geleentheid die vorm van ‘n kuier saam met vriende aanneem, soms is dit ‘n kunswaardering, soms ‘n meditasie, soms ‘n intellektuele gesprek, soms alles saam.  Rondom die tema vind integrasie plaas, maar die styl is eklekties.
®    Leer vind plaas in ‘n atmosfeer van ontdekking en interaksie, nie in “lering” nie.  Daar is dus nie preke of didaktiese materiaal nie.  Geleenthede eindig tipies met ‘n vraag, in plaas van met ‘n antwoord.