29 November 2011

Grys máák saak ...

So ʼn tydjie terug het ek besef hoe belangrik die grys dele van die lewe is.  Ek was siek en sat vir cliché antwoorde wat my vrae versmoor en het begin smag na ʼn plek waar almal net kan erken die lewe is grys en klaar!  Swart en wit is so laas jaar en blykbaar is grys in elkgeval die nuwe pienk.  Die lewe is ʼn mengelmoes en als is subjektief.  Wat nog gepraat van God!  In hierdie nuwe besef wou ek vir ʼn tydjie rus, ver weg van al die klaviersleutels en skaakborde daar buite.
Dis toe dat ek ʼn groep mense ontmoet wat daarop uit is om juis díe ‘grysheid’ van die lewe te vier.  Grey Matters noem hul hulself en sê daardeur dat jy maar jou grysstof (grey matter) kan gebruik om eerlike vrae oor God en die lewe te opper.  Hulle sê: “grys maak saak” (grey matters), en kom daarom rondom die gryserige sake (grey matters) van die lewe byeen wat ons gewoonlike vermy.  Met my nuwe grys fetish kon ek nie wag om by hulle aan te sluit nie.
Groot was my teleurstelling egter toe ek een aand daar opdaag.  In plaas van grys word ek deur ʼn hele reënboog kleure ontmoet.  Die byeenkoms was een waarin mense eerlik met hulle eie oortuigings kon omgaan en by mekaar kon leer.  Die plek het oorgeborrel met kreatiwiteit en daar was iets vir elke sintuig.  Waar ek my net in my eie melankolie wou verlekker, was ek uitgenooi om nuwe ruimtes vir lewe te ontdek.  Vir ʼn postmoderne denker soos myself was dit net te erg.  Hulle het duidelik nog nie die volle omvang van die grysheid gesnap nie!  Hulle ontmoet blykbaar steeds al om die ander Donderdag-aand in die Hofmeyrsaal, maar jy sal my nie weer daar sien nie.
Gegroet met ʼn gry(n)slag,
Vaaljapie

(Hierdie bydrae het oorspronklik in die Stellenbosch Moederkerk gemeenteblad (2011) verskyn)