24 February 2012

Karl Popper se 4 funksies van Tradisie

Vir baie mense is tradisie iets waarvan hulle net nie vinnig genoeg kan weg kom nie.  Vir ander is dit iets waaraan hulle jaar na jaar vashou - al is dit om vurige bulle in klein, oorbevolkte straatjies los te laat (klink soos Loftus op ʼn Super 15 Saterdag).  Hoekom nog deelwees van ʼn tradisie?

Wel, volgens die invloedryke Filosoof, Karl Popper, vervul tradisies vier belangrike funksies binne ʼn samelewing:

 
In die eerste plek help tradisies ons om orde te sien waar daar andersins net chaos is.  Tradisies bied vir ons empiriese of metafisiese veronderstellings wat soos lense ons help om realiteit te interpreteer.  Waar daar nie orde is nie kan mense nie rasioneel optree nie; en dit veroorsaak angs.  Dus help tradisies ons om sinvol met die wêreld en samelewing om te gaan.  Bv. die Christelike veronderstelling dat God genadig is maak dit vir Christene moontlik om die angs van skuld en verwerping te oorkom en om ten spyte daarvan met integriteit te kan lewe.

Tweedens bied tradisies vir ons riglyne vir optrede.  Sulke riglyne kan moreel, esteties of bloot funksioneel van aard wees.  Alhoewel ons vervreemd kan raak van die betekenis wat agter tradisionele riglyne lê, kan hulle van onskatbare waarde wees.  Popper gee die volgende voorbeeld:

“When I was in New Zealand I got hold of a set of American records of Mozart’s ‘Requiem.’ When I had played these records I knew what the lack of a musical tradition meant. This set of records had been made in America, under the directorship of a musician who obviously was untouched by the tradition, which has come down from Mozart. The result was devastating.”

Derdens help tradisie ons om ons eie geskiedenis en kultuur te verstaan en verskaf dan ook die grondslag wat sinvolle veranderings moontlik maak.  Popper gebruik die volgende voorbeeld: “In science it would be a tremendous loss if we were to say:  ‘We do not make very much progress. Let us sweep away all science and start afresh.’ You may create a new theory, but the new theory is created in order to solve those problems which the old theory did not solve. Popper waarsku teen revolusies wat met ʼn skoon bladsy wil begin: “Indeed a set of values can have social significance only in so far as there exists a social tradition which upholds them... we should not be surprised if we find that once we destroy tradition, civilisation dissapears with it.

In die vierde plek speel tradisie ʼn belangrike rol in die vorming van identiteit.  Deur ʼn sekere tradisie aan te hang verskeker jy vir ander (binne-en-buitestanders) van jou rasionaliteit en relatiwe voorspelbaarheid.  Dit help om ʼn gemeenskaplike verwysingsraamwerk op te stel wat kommunikasie en vertoue versterk.  Dus help tradisies ook om die voortbestaan en gesonde funksionering van gemeenskappe te verseker.

By ons vorige Grey Matters byeenkoms kon ons almal aanklank vind by hierdie vier funksies van tradisie.  Tradisie, soos hier beskryf, is iets waarsonder ons nie kan nie, al voel dit soms soos ʼn onnodige las.  Is tradisie nie dalk underrated nie?
Bronne:
Sarot, Marcel.  "Why should one want to participate in a religious tradition? Poppers view of tradition applied to Christianity" in Ars Disputandi 3(2003).
Karl R. Popper, ‘Towards a Rational Theory of Tradition", The rationalist Annual 66 (1949), 3655, rpt. in: Conjectures and Refutations: The Growth of Scientific Knowledge (London 31972)

1 comment:

  1. Jammer ek kon nie die byeenkoms bywoon nie, maar baie dankie vir die plasing op die blog. As ek maar net een puntjie kan onderstreep, dan kies ek hierdie sinsnede:

    "Derdens help tradisie ons om ons eie geskiedenis en kultuur te verstaan en verskaf dan ook die grondslag wat sinvolle veranderings moontlik maak."

    Ja, gewis, tradisie is dinamies en bly aan die beweeg. Ek onthou nog wat dit dekades gelede van my gevra het om op 'n warm somersdag by die kerk in te stap ..... nie sonder 'n baadjie nie, maar met my baadjie oor my arm!

    Deesdae stap ek met kerklike dogmas oor my arm by die kerk in. Ek het dit nie weggegooi nie, dis deel van my tradisie en ek ken die ontstaansgeskiedenis daarvan. Dis net nie langer vir my funksioneel in die warm strale van kennis wat my deur die wetenskap en die Bybelwetenskap bereik nie.

    ReplyDelete